De Bank Voortrekkerkampterrein
Terrein en fasiliteite
Die De Bankkampterrein is geleë op die oewer van die Vaaldam, naby Oranjeville. Die terrein is spesiaal ingerig vir waterwerkkampe, met lieflike grasperke, groot badkamergeriewe, ‘n saal en toegeruste kombuis. Daar is niks so mooi as om die son te sien opkom oor die Vaaldam nie. De Bank is ongeveer 160 km vanaf Pretoria/Johannesburg, reg langs die reuse Vaaldam en by die rustige plattelandse dorpie Oranjeville. Die 8 hektaar terrein, met groot golwende grasperke en reuse bloekombome lê in die waai van die Wilgerivier gedeelte van die Vaaldam. Die oewer bestaan uit ‘n baie veilige sandstrand waar die water stadig dieper raak. Alhoewel daar ‘n swembad is sal die meeste kampeerders sommer in die dam se skoon water swem en baljaar. Die terrein is ideaal vir avontuur- en ontspanningskampe. Spanboue kan met groot sukses aangebied word in die saal, op die grasperke en selfs in die water met die vlotte. Kerke en skole vind die terrein veral geskik omdat dit soveel anders is as dit waaraan meeste kampeerders gewoond is. Die terrein bied slaapplek vir ongeveer 60 mense in houthuisies. Tente word met gemak opgeslaan op die groot grasperke wat hierdie terrein geskik maak vir groot kampe.
Ligging
GPS-koördinate: S 26° 57′ 45.0″ O 28° 13′ 04.7″
Aanwysings: (vir mense wat suid op die R59 ry)
- Daar regs net voordat jy in Deneysville inry.
- Na 10,6 km draai links en bly op die R716 (rigting Oranjeville) – daar is steeds slaggate op hierdie stuk pad.
- Na 13,4 km draai links op Lake Straat (rigting Metsimoholo) net voordat jy Oranjeville inry.
- Na 1,4 km is daar ’n grondpad wat uitgaan na die linker kant, draai links op hierdie grondpad (jy moet oor twee stoppe ry).
- Ry 0,45 km aan, die pad draai na regs (rowwe stukkie grondpad, baie rooi grond), net nadat jy verby die ou murasie is, by die kragpaal, is ’n pad wat links uitgaan – draai links op hierdie grondpad.
- Volg hierdie pad vir 1,6 km – dit loop vas in die De Bankkampterrein.
NOTA: Dit word baie sterk aanbeveel dat jy hierdie roete nagaan en seker maak dat jy weet waar die terrein is, alvorens jy in die kar klim en ry. Vat die koördinate en gaan kyk op Google Maps waar die terrein is en hoe jy moet ry om daar te kom.
Besprekings
Besprekings kan by me. Larissa Heyneke gemaak word.
Kontaknommer: 082 856 2981