Die kamp waar jy jouself mag wees!

Hiermee word jy hartlik uitgenooi na die 36ste Wilgedraai Voortrekkerkamp!

Wilgedraai is ʼn moderne Voortrekkerkamp wat hoërskoolkinders help om hulle passie vir waterwerk te ontdek en dit uit te bou deur die ontwikkeling van die nodige vaardighede.

Soos oudergewoonte word Wilgedraai Voortrekkerkamp aangebied op die goue strande van die Vaaldam en bied ons jou die geleentheid om ʼn bietjie te kom ontspan voor die laaste kwartaal van die jaar. Wilgedraai is ʼn avontuurbelaaide kamp waar almal pret op en langs die koel waters van die Vaaldam het. Tydens Wilgedraai word gespesialiseerde kursusse aangebied onder andere Oewervernuf, Varswaterkunde, Roeikunde, Varswaterhengel, Seilkuns, Kampmedia, Vaandrigte, Motorbootkunde, Ruiterkuns en die “ultimate” Selfbehoud. Hierdie kursusse word aangebied deur ʼn span jong dinamiese instrukteurs, wat kundiges op hul onderskeie gebiede is. Daar word gefokus op die ontwikkeling van varswatervaardighede maar meer as dit, die ontwikkeling van jou passie.

Óf jy die volgende Bear Grylls is en óf jy net ʼn bietjie wil kom ontspan en saam met jou vriende kuier, by Wilgedraai Voortrekkerkamp sal jy vir jouself ʼn plekkie vind – waar die son op jou mag skyn en jy jouself mag wees. As jy reeds op Wilgedraai gekamp het en of jy vir die eerste keer kom kyk wat regtig op Wilgedraai Voortrekkerkamp aangaan: Baie Welkom!