Kampreëls, bepalings en voorwaardes van Wilgedraai Voortrekkerkamp

COVID-19

1. Uit die aard van die Voortrekkeraktiwiteite, wat op Wilgedraai Voortrekkerkamp aangebied word, is dit nie altyd moontlik om sosiale afstand tussen persone te handhaaf of te verseker nie.

2. Dit is verder nie moontlik om elke stuk toerusting wat op Wilgedraai Voortrekkerkamp gebruik word op ʼn deurlopende en gereelde basis te steriliseer nie.

3. Wilgedraai Voortrekkerkamp neem die nodige stappe, om so vêr moontlik te verseker, dat:

a. lede wat COVID-19-simptome toon nie deelneem aan die kamp en aktiwiteite nie, of in aanraking kom met ander lede nie;
b. sosiale afstand gehou word;
c. elke lid ʼn buff ontvang wat as ʼn gesigmasker gebruik kan word;
d. elke lid handreiniger ontvang en dat daar deur die loop van die kamp handreiniger beskikbaar is;
e. die fasiliteite en toerusting so skoon as moontlik gehou word; en
f. dat basiese mediese hulp deurlopend aan lede wat die kampbywoon beskikbaar gestel word.

4. Lede wat Wilgedraai Voortrekkerkamp bywoon neem deeglik kennis van die bogenoemde, en woon nieteenstaande die bogenoemde die kamp vrywilliglik by en neem vrywilliglik deel aan die aktiwiteite wat aangebied word.

5. Dat nie Die Voortrekkers, Wilgedraai Voortrekkerkamp of enige volwasse lid van Die Voortrekkers persoonlik of andersins aanspreeklik gehou kan word in die geval waar enige virus, bakterie of siekte aan ʼn persoon oorgedra word nie en bly ʼn lid se persoonlike gesondheid sy/haar eie verantwoordelikheid. Dus woon die lid Wilgedraai Voortrekkerkamp op eie risiko by.

Kursusbeperkinge

  1. ʼn Persoon mag slegs vir een kursus ingeskryf word.
  2. ʼn Kind mag slegs ingeskryf word vir ʼn kursus wat vir sy/haar betrokke graadgroep aangebied word.
  3. Let daarop dat elke kursus slegs ʼn beperkte aantal kursusgangers kan akkommodeer. Indien die maksimum bereik word, sal geen verdere inskrywings vir die kursus aanvaar word nie.
  4. Inskrywings vir ʼn kursus kan sonder aankondiging gesluit word op die diskresie van die kampleier en sal die betrokke opsie van die inskrywingsvorm verwyder word.
  5. Vir al die inligting rakende die kursusse kan op Wilgedraai Voortrekkerkamp se webblad verkry word by wilgedraai.co.za/kursusse/.

Indeling van volwassenes by kursusse

  1. Die kursusleier is verantwoordelik om hulle span instrukteurs en fasiliteerders saam te stel.
  2. Indien ʼn volwassene by ʼn spesifieke kursus wil diens doen, kan die volwassene dit met die betrokke kursusleier bespreek alvorens die volwassene inskryf.
  3. Volwassenes wat vir die eerste keer op Wilgedraai Voortrekkerkamp kamp is onderhewig aan die bywoning en voltooiing van die Mas Luitenantekursus (oriënteringskursus vir nuwe volwas­se­nes).
  4. Die finale indeling van volwassenes by kursusse berus by die kampleier in oorleg met die betrokke kursusleier.

Onttrekkings

  1. Indien dit onmoontlik geraak het vir iemand om Wilgedraai by te woon, nadat die hy/sy ingeskryf het, mag hulle onttrek.
  2. Dit sal hoog op prys gestel word indien ʼn ander persoon in die plek van die onttrekking kan kom kamp.
  3. Indien dit nie moontlik is nie, kan die volgende reëling getref word:
    1. As ʼn persoon voor Maandag 12 Oktober 2020 onttrek sal Wilgedraai 100% van die kampgelde terugbetaal word.
    2. As ʼn persoon voor Vrydag 16 Oktober 2020 onttrek sal Wilgedraai 50% van die kampgelde terugbetaal.
    3. As ʼn persoon na Vrydag 16 Oktober 2020 onttrek sal Wilgedraai ongelukkig geen van die kampgelde terugbetaal nie omdat daar reeds uitgawes aangegaan is.
  4. Enige versoek om ʼn persoon te onttrek kan aan die Adjunkkampleier: Administrasie, Nicoleen Thirion by administrasie@wilgedraai.co.za gestuur word.

Rekonsiliasie

  1. Kommando’s kan op enige tyd ʼn lys van hul inskrywings aanvra. Die Adjunkkampleier: Administrasie sal spoedig werk daarvan maak.
  2. Kommando’s sal nadat die inskrywings gesluit het ʼn rekonsiliasielys ontvang.
  3. Indien daar enige navrae is rakende ʼn spesifieke inskrywing of transaksie kan die navraag aan administrasie@wilgedraai.co.za die Adjunkkampleier: Administrasie, Nicoleen Thirion gestuur word by.

Sigarette, drank, dwelmmiddels en items van ‘n seksuele aard

  1. Die gebruik of besit van enige sigarette en e-sigarette deur kinders is verbode.
  2. Die gebruik of besit van waterpype (hubbly bubblies), drank, dwelmmiddels en items van ʼn seksuele aard is vir kinders en volwassenes streng verbode.

Beserings en siektes

  1. Die Voortrekkers bied aktiwiteite juis aan om vol avontuur te wees en moet alle lede, ouers, en wettige voogde van lede kennis neem dat dit noodwendig risiko’s met gewone beserings kan verhoog.
  2. Lede gaan op uitstappies en kampe in die veld, met al die uitdagings van ʼn lewe in die veld, spesiale kursusse word aangebied met gesofistikeerde toerusting, bv. roei, seil, vasbytkursusse met spesifieke uitdagings, en vele meer.
  3. Verantwoordelike volwasse lede van Die Voortrekkers is te alle tye in beheer met die aanbieding van alle aktiwiteite en is alle lede, en in besonder jeuglede, verplig om nougeset die versoeke en opdragte van hierdie volwassenes na te kom. Ouers en wettige voogde moet dit duidelik onder die aandag van jeuglede bring.
  4. Die verantwoordelike volwassene moet altyd toesien dat basiese noodhulp beskikbaar is om lede in tye van siekte en besering behulpsaam te wees. Basiese medikasie sal tydens kampe, toere en dergelike aktiwiteite aan lede beskikbaar gestel word vir gebruik onder die toesig van ʼn verantwoordelike volwassene.
  5. Die volwasse lid in beheer word gemagtig om mediese hulp aan lede te bied soos nodig in noodgevalle.

Beeldmateriaal

  1. Die Voortrekkers sal toesien dat slegs smaakvolle foto’s en video’s van lede op enige platform geskep en versprei word. Indien enige lid, ouer of wettige voog van mening is dat ʼn bepaalde foto of video nie verder gebruik mag word nie, moet Wilgedraai se bestuur onmiddellik daarvan in kennis gestel word.
  2. Lede, ouer en wettige voogde kan wel vooraf aandui indien foto’s of video’s van ʼn bepaalde persoon nie geneem of gepubliseer mag word nie. Die Voortrekkers sal sovêr moontlik poog om aan die versoek te voldoen.

Vrywaring

  1. Die standaard vrywaring vir jeuglede van die Voortrekkers is van toepassing en deur ʼn kind in te skryf aanvaar die ouer of wettige voog sodanige vrywaring. Dié vrywaring kan verkry word by wilgedraai.co.za/vrywaring-jeuglede/.
  2. Die standaard vrywaring vir volwasse lede van die Voortrekkers is van toepassing en deur hom-/haarself in te skryf aanvaar die volwassene sodanige vrywaring. Dié vrywaring kan verkry word by wilgedraai.co.za/vrywaring-volwasselede/.
  3. ʼn Inskrywing vir Wilgedraai Voortrekkerkamp impliseer dat hierdie bepalings en voorwaardes verstaan en nagevolg sal word en dat die kind/volwassenes sy/haar besittings sal onderwerp om deursoek te word, deur lede van die kampdagbestuur, in die geval van ʼn oortreding of waar so ʼn oortreding vermoed word.
  4. Indien gevind word dat ʼn persoon hierdie beleid oortree, kan die persoon aangesê word om die kamp te verlaat.
Scroll to Top