Loading...

Hiermee word jy hartlik uitgenooi na die 37ste Wilgedraai Voortrekkerkamp!

Wilgedraai is ʼn moderne Voortrekkerkamp wat hoërskoolkinders help om hulle passie vir waterwerk te ontdek en dit uit te bou deur die ontwikkeling van die nodige vaardighede.

Die algemene inpaklys is nou beskikbaar.

Maak asseblief seker dat jy al die items op die kamp se inpaklys asook die die spesifieke uitrusting saambring, wat jy vir jou kursus nodig het.

Kampdatums

Alle volwassenes moet reeds Vrydag 20 September 2024 om 18:00 op die kamp aanmeld. Spesiale reëlings moet direk met die Kampleier getref word indien ’n volwassene laat gaan aanmeld.

Indien jy en/of jou kind die kamp vroeg moet verlaat, moet daar vooraf met die Kampleier ’n reëling getref word. Niemand mag die kamp sonder toestemming verlaat nie. Let daarop dat al die kursusse ’n minimum bywooningsperiode het en indien jou kind nie vir ten minste daardie periode die kursus bygewoon het nie, mag Wilgedraai Voortrekkerkamp nie die betrokke kenteken toeken nie.

Registrasie:
Saterdag 21 September 2024
om 10:00

Kampverdaag:
Saterdag 28 September 2024 om 12:00

Oewervernuf (Gr. 7)

Spesialisasiekentekens:
Oewervernuf (O)

Koste: R1 585

Maksimum: 30

Dis weer tyd vir Wilgedraai, en Oewervernuf wil in die waters lawaai, binnebande ry op die wilde rivier se golf, in ’n feetjiebos oornag, langs die kletterende, vuurspoegende wolf.

Met roeibote wat stroomafwaarts, dans op die water se spring, seilbote wat die wind se liedjies sing, motorbootry is darem ’n lekker ding.

En perdry om die landskap in al sy glorie te ervaar, ons hengel vir grootte geel vis sowaar. Kommunikasie met die natuur, ’n taal sonder woord, by Oewervernuf raak Gr. 7’s groot.

Kom staan langs my op die oewer, en sien hoe die son sy kop uit steek, hier word ’n liefde vir die Vaaldam gekweek. Dra met trots jou eerste Verkennerkenteken, want Oewervernuf gaan vir jou baie beteken.

Varswaterkunde (Gr. 8)

Kom leef jou beste Verkennerself uit op Wilgedraai, die kamp waar jy jouself mag wees. Kom leer ’n paar dinge terwyl jy jouself geniet. Ontsnap jou alledaagse lewe en verken die Vaaldam. Ontdek nuwe dinge in die natuur, asook die interessanthede van die waterlewe. By Varswaterkunde het jy nie net die geleentheid om jou kennis oor die natuur en dam te verbreed nie, maar ook om te leer speel. Ons vat elke nou en dan ’n breuk van leer af en neem deel aan boeresport. Na ’n lang dag van leer en speel koel ons af in die dam op ons ‘tjoepies’. Nou waarvoor wag jy? Kom word ’n Varsie!

Spesialisasiekentekens:
Varswaterkunde (O), Waterveiligheid (B) en
Makkerhulp (B)

Koste: R1 585

Maksimum: 50

Roeikunde (Gr. 9)

Spesialisasiekentekens:
Roeikunde (V), Waterveiligheid (B) en Touwerk (V)

Koste: R1 585

Maksimum: 40

Skryf in vir ’n ongelooflike roei-ervaring op die Vaaldam! By Wilgedraai Roeikunde kry jy die perfekte mengsel van speel, kuier en roei op die water. Verbeel jou dae vol pret terwyl jy die kuns van roei bemeester, saam met vriende oud en nuut. Ons het ’n opwindende regatta wat jou adrenalien sal laat pomp en ’n onvergeetlike uitslaap om die kursus mee af te sluit. Elke oomblik op die water is ’n kans om vriendskappe te bou en herinneringe te maak. Kom geniet die sonskyn, skoon lug en vars waters saam met ons. Jou someravontuur wag!

Varswaterhengel (Gr. 9 en 10)

Om te hengel is pure genot! Kom vat ’n blaaskans by die dam: Varswaterhengel is ’n ontvlugting van die skool, stres en jou probleme. Dit is ’n wonderlike geleentheid om langs die kabbelende waters van die Vaaldam te sit, jou lewe te bedink en jou kop in die natuur skoon te maak. Kom leer die fynere kunsies van hengel. Wilgedraai stel aan jou die uitdaging: Kom haak daardie knewel en spook hom uit, wys ons wie is baas!

Spesialisasiekentekens:
Varswaterhengel (V), Waterveiligheid (B) en Selfverdediging (B)

Koste: R1 800

Maksimum: 25

Seilkuns (Gr. 10)

Spesialisasiekentekens:
Seilkuns (V) en Seilvernuf (V)

Koste: R1 730

Maksimum: 39

Is jy mal oor avontuur en water? Kom sluit aan by die Seilkuns waar jy die unieke geleentheid gaan kry om die wonderwêreld van seil en wind op die water te verken! Ons ervare instrukteurs leer jou hoe om bote op te slaan, te versorg en op die water te bemeester sodat jy gereed is om storms te kan oorwin. Die week is propvol praktiese opleiding en aktiwiteite wat hoofsaaklik op die water gebeur.

Aan wal probeer ons om jou ’n ervaring te gee soortgelyk aan seerower met indruk tot hulle musiek en dalk is daar ’n skatkis ook iewers te vinde. Sluit by ons aan vir ’n onvergeetlik week van pret op die water en leer die geduld en nederigheid wat net die afhanklikheid van die natuur jou kan leer!

Kampmedia (Gr. 9, 10 en 11)

Gewonder wat om te doen op Wilgedraai as jy meer wil leer van fotografie óf as jy wil spog met jou skryf- of digterkunsvaardigede? Wel, dan is Kampmedia vir jou bedoel …

Ons speel met ons kameras en skryf artikels na besoeke by die verskillende kursusse. Ons werk en beleef tot laat nagavonture. Ons kyk waarmee almal op die kamp hulle besig hou en loer in die kospotte, die Seilers, Perderuiters, Roeiers, Motorbootmanne en -dames, Hengelaars en selfs Selfbehoud. Ons gedra ons soos papparazi en snuffel interessante inligting uit en plaas artikels en foto’s op sosiale media … ons is ook bekend as die nuusbrakke van die kamp!

Kom kuier saam met ons en geniet die kamp vanuit die kamera se oog … as jy ’n ervare fotograaf is, leer ons by jou!

Spesialisasiekentekens:
Kampkommunikasie (B) en Fotografie (V)

Koste: R1 585

Maksimum: 20

Ruiterkuns (Gr. 10, 11 en 12)

Spesialisasiekentekens:
Ruiterkuns (V) en Anglo-Boereoorlog (A)

Koste: R2 200

Maksimum: 20

Ruiterkuns is nie net ’n Verkennerspesialisasie nie maar ’n kursus waar jy werklik leer perdry. Ruiterkuns op Wilgedraai Voortrekkerkamp is ’n familie waar jy leer hoe om met diere en mense te werk. Vele van die kursusgangers het geen ervaring met perde voordat hulle op die kamp aangemeld het nie en het die kamp as ruiters verlaat. Daar is vir elke twee kursusgangers ’n perd en bied dit genoeg rytyd op die perd se rug. Daar word met die perde in die dam geswem en is dit ’n wonderlike belewenis. ’n Plesierrit van 12 km is ook by die kursus ingesluit. Die Ruiterkunsspesialisasie word saam met die Anglo-Boereoorlogspesialisasie aangebied en skep dit ook ’n kultuurhistoriese konteks vir perde en die rol wat hulle gespeel het.

Kom beleef hierdie besondere ervaring en skryf so gou moontlik is want daar is beperkte plekke beskikbaar. Dit is die beste natuurervaring in die land en die ideale geleentheid om jou vrese te oorkom.

Vaandrigs (Gr. 9, 10 en 11)

Spesialisasiekentekens:
Waardes (C), Leierskapsvaardighede (L), Waterveiligheid (B) en Tradisionele Spele (A)

Koste: R1 585

Maksimum: 20

Motorbootkunde (Gr. 11 en 12)

Spesialisasiekentekens:
Motorbootkunde (V) en Makkerhulp (B)

Koste: R2 200

Maksimum: 20

Selfbehoud (Gr. 11 en 12)

Wilgedraai Selfbehoud is die “ultimate” selfbehoud! Ons bied Gr. 11 en 12-Verkenners die geleentheid om hulle grense op en langs die waters van die Vaaldam te verbreed. Hierdie kursus vra waagmoed, dit leer jou dankbaarheid en wat kameraadskap werklik beteken. Kom durf die onmoontlike aan en oorwin. Wat Wilgedraai Selfbehoud van ander selfbehoude onderskei is nie hoe min jy slaap, of hoe min jy eet, of hoe ver jy stap, of hoe baie klippe jy kou nie, wat ons Selfbehoud onderskei is ons unieke karakter, kultuur en tradisies. En om een van ons te wees, is ’n grootse voorreg.

Spesialisasiekentekens:
Waterselfbehoud (B)

Koste: R1 585

Vervoeropsies

Opsies:

Eie vervoer

Busvervoer (retoer) – R400

Busvervoer (enkelrit) – R285

Sien Wilgedraai Voortrekkers se inskrywingsvorms om vir jou of jou kind ʼn plek op die bus te bespreek. Indien daar nie van die kamp se busvervoer gebruik word nie, moet jy vir jouself of jou kind vervoer reël na en van die kamp.

Busse vertrek Saterdag 21 September 2024 om 08:00 vanaf Hoërskool Menlopark, stop by die Highveld Engen 1 Stop en vertrek om 09:00 na die kamp. Busse vertrek Saterdag 28 September 2024 om 12:00 vanaf die kamp, stop om 14:00 by die Highveld Engen 1 Stop en arriveer om 15:00 by Hoërskool Menlopark.

Verblyfopsies

Jeuglede moet hulle eie tente saambring. Dit moet verkieslik ʼn twee- of driemantent wees. Ons kry van tyd tot tyd ’n donderstorm, so daar word aanbeveel dat genoeg ordentlike tentpenne saamgebring word. Wilgedraai Voortrekkerkamp voorsien nie tente vir verblyf nie. Ons beveel verder ook aan dat tente nie deur kampeerders gedeel word nie.

Daar is beperkte slaapplekke in die chalets en houthuisies vir volwassenes. Slaapplek sal toegeken word soos volledige inskrywings en betalings verwerk word. Indien ’n volwassene nie in ’n chalet of houthuisie wil bly nie, moet hulle self ’n tent of karavaan saambring.

Jeuglede: Eie tent

Volwassenes: Eie tent, karavaan of houthuisie

Snoepie

Bankbesonderhede:

Wilgedraai Voortrekkerkamp
FNB Rekening 623 830 880 88
Takkode 205 609

Bewys van betaling na: administrasie@wilgedraai.co.za

Daar sal deur die loop van die kamp ’n snoepie beskikbaar wees. Hierdie snoepie is egter kontantloos. Ouers kan vir hulle kinders snoepiegeld oorbetaal deur middel van ’n EFT in ons bankrekening. Hierdie geld sal dan op die Verkenner se bandjie (wat hulle by registrasie ontvang) geplaas word. Hierdie bandjie se strepieskode word dan gebruik om te betaal vir items by die snoepie. Ouers kan selfs gedurende die kamp nog snoepiegeld deur middel van hierdie proses vir hul kinders laai.